Prof Jan en Anne in Engeland

Prof. Jan en Anne se vakansie in Engeland


Die Barkhuizens het ‘n paar geselkteerde plekke in Engeland besoek. Ons eerste trefpunt was die ou stad York [in die Viking-dae bekend as Jorvik], waar ons veral in die omgewing gekonsentreer het op twee majestueuse abdye wat deur Henry VIII verwoes is toe hy die protestantisme in Engeland gevestig het. In die hawe-dorpie Whitby aan die ooskus daarvan het ons glo [al die Engelse bevestig dit] die lekkerste Vis en Skyfies in Engeland gaan eet. Van hier is ons na die Mere-distrik, waar ons naby die klein dorpie Hawkshead, tussen twee mere en in ‘n woudgebied, gaan bly het. Ons pad het van hier af suidwaarts geloop na Devon en Cornwall. Ons het twee nagte in die historiese herberg Jamaica Inn gaan bly, wat in die 17de en 18de eeu gebruik was as smokkel-herberg en wat die tema geword het van Daphne DuMaurier se boek ‘Jamaica Inn’. Ons laaste groot oorbly-plek was die kleine hawedorpie Mousehole, so genoem omdat die hawe met ‘n ronde muur toegemaak is met net ‘n gat daarin vir die bootjies om in en uit te gaan. In hierdie omgewing het ons ook na die oorblyfsels van ‘n antieke gehuggie gaan kyk wat uit die Romeinse besettingsera in Engeland dateer. Oppad lughawe toe het ons in die gebied naby Bath gaan oornag, Devizes, en aangedoen by Castle Combe, waar tonele van die fliek War Horse verfilm is. In Avebury daar naby het ons ook weer die Circle of Stones [klipwerke wat o.a. aanbiddingsplekke was vir die mense so 3000 v.C.] gaan besoek. Hierdie besoek het aan ons onvergeetlike herinneringe saam gegee vir ons oudag – eendag.

Kliek op die fotos vir meer inligting