Leon en Barbara in Italie en Oostenryk

Leon en Barbara Hattingh se vakansie in Italië en Oostenryk

 11 Mei – 3 Junie 2012

Ons het twee Trafalgar-toere opeenvolgend geneem en die belewenis van ons lewe gehad. Wat ons op skool geleer, of later as dosent aan studente vertel het, vir die eerste keer in ons lewens werklik aanskou. Dit was ’n voorreg. In Rome, waar ons begin het, was die besoeke aan die Vatikaanstad, die Collosseum, Pantheon, die aanskouing van die wêreld beroemde skilders en beeldhouers soos Michael Angelo, Leonardie da Vinci en vele ander se werke iets om te beleef. Pompeï, die stad wat kort na Christus deur die vuurspuwende berg Vesuvius met as bedek is, is verrassend groot en nog goed bewaar. Van Salerno, by die baai van Napels, het ons die eiland Capri besoek asook die Amalfikus waar dit lyk of die huise van Positano teen die berghange hang.
Ons het ’n houtinlegfabriek in Sorento besoek en op ’n plaas suurlemoen-aperitief gedrink. In Assisi by die St Franciskus-klooster op die heuwel het die ‘Giro d’ Italia’, die Italiaanse Tour de France, en ons op dieselfde dag aangekom en die plek was in ’n feestelike stemming. Toe volg Venesië. Vir twee dae sien ons net water en geen motors, busse,  vragmotors of treine nie. Alles moet per boot afgelewer word. ’n Gondelrit was Barbara se droom. Die stadsopset oorweldigend. Ons besoek die bekende St Markusplein en die glasblasers van Murano. Ons reis verder en in Verona sien ons die oorspronklike balkon van Juliet van Shakespeare-faam. Hierna volg die meer Maggiori wat in ’n pragtige deel  van Italië is. Op een van die eilande is die Isola Bella-paleis waar Napoleon en Josephine ’n nag in 1796 deurgebring het  en pres Rooseveldt , Churchill en ander leiers tydens die Tweede Wêreldoorlog vergader het. Ons besoek Milaan en word toegelaat om die La Scala-operahuis binne te gaan tot by die toeskouers se sitplekke. In Florens, na ’n besoek aan Pisa met sy toring, bewonder ons die pragtige argitektuur, die beroemde David-beeld en een van die vier  Pieta’s. Hier beleef ons gedurende die nag ’n aardbewing  wat ons bed so ruk en skommel dat ons wakker word. Ons bring besoeke aan twee van die bes bewaarde middeleeuse stede en keer toe terug na Rome
In München begin ons volgende toer. Net buite die stad lê Dachau, Hitler se eerste konsentrasiekamp, gestig enkele weke na sy oorname as Führer van Duitsland in 1934. Die gaskamers, en die fondamente van die woonkwartiere van die gevangenes, bestaan nog en in die eertydse administrasie-gebou ’n insiggewende museum wat die grusame verhaal vertel.   Langs ons hotel  was die saal waar Hitler jaarliks sy party se algemene vergadering gehou het en die jongman Georg Elser ’n bom in die pilaar agter die podium geplant het in ’n poging om Hitler om die lewe te bring. Ons reis verder deur die pragtige Bavaria en later Tirool in Oostenryk met die sneeubedekte toppe van die Alpe in die agtergrond; besoek Oberammergau en daarna  Innsbruck. Hier woon ons ’n plaaslike volksang-konsert by en sing ons twee vir die skare Sarie Marais terwyl die orkes begelei. Die feetjie-mooi  kasteel van koning Ludwig, Neuschwantstein, is nog ’n belewenis. Hierna volg die Winter Olimpiese Spele-stadion buite die stad waar ’n skiër juis aan die oefen was. Op pad na Salzburg besoek ons in die Berchtesgaden Park Kehlstein Haus, die verjaarsdag geskenk van die Nazi-party aan Hitler om sy belangrike gaste in te onthaal. Die Amerikaners noem dit ‘Eagles Nest’ want dit is bo-op een van die bergspitse. Nadat jy teen ’n steil berg per bussie vervoer is, bereik jy die tonnel wat jou 174meter diep die berg in neem waar die hysbak is wat jou nog ’n 174meter hoër op neem. Bo, tussen die sneeu is die onthaalplek met ’n asemrowende uitsig na bykans alle kante. In Salzburg, Mozart se geboortestad,  is daar verskeie plekke waar die rolprent ‘Sound of Music’ destyds verfilm is. Dit is ook die plek waar kapt Von Trapp, die karakter waaroor die film gaan, gewoon het. Ons besoek die tuin wat in die film voorkom asook die kerk waarin die huwelik verfilm is. In Wene woon ons in ’n hotel op die wal van die Donourivier en hou die swane dop wat daarop dryf. Ons woon ’n konsert van Strauss en Mozart se musiek by, en besoek die Schönbrunn-paleis. Bring ’n besoek aan die Weense woud en huil oor alles verby is. Dit was so lekker.
Kliek op die fotos vir meer inligting