Johan en Nellie Combrink in Australie

Hier is ‘n paar van Johan en Nellie Combrinck se vakansie foto’s, hulle stuur groete en skryf soos volg uit Australië….
Die Combrincks is in Australië en wat ‘n mooie land is dit nie!  Ons dierbare seun, Andries, is ‘n kranige surfer en is altyd op soek na geskikte branders – saam met hom het ons prentjiemooie, ongerepte  strande in die Margaret Rivergebied raakgeloop, sommiges langs wilde 4×4 paaie wat die manne kans gegee het om hul bestuursvernuf te toets en mý soms van benoudheid laat uitklim het! Oral is daar ook sandsteenrotse wat verskriklik mooi verweer en vir die mooiste foto geleenthede sorg. Margaret River het ook gebiede met  ongelooflike natuurlike woude waar bome groei met name soos onder andere Karri, Marri, Jarrah en selfs Grasbome, of “Black Boys”. Laasgenoemde kan tot 300jr oud kan word, maar groei net sowat 2cm per jaar!
Ons doen natuurlik ook die gewone toeriste goed soos om botaniese tuine, olyfplase, laventelplase en sjokoladefabrieke te besoek asook ‘n wildsplaas wat allerhande gerookte wildsvleisprodukte verkoop en selfs ook ‘n wildsboerewors en biltong!
Johan mis dit vreeslik om op die Afrikaanse manier te kan vleisbraai ( hier doen hulle mos net ‘n “Barbie”op gas en dis net nie dieselfde nie!) Andries is nie verniet sy Pa se kind as dit by planne-maak kom nie en so het hy uit ‘n staalbiervat wat hy in die helfte deurgesaag het ‘n puik alternatief geprakseer. Sommige plekke het streng “geen oop vure” voorskrifte, maar ons kon darem al ‘n paar keer ‘n tjoppie op die kole gooi!
Daar is nog ‘n klomp goed hier om te sien en doen en ons geniet elke oomblik saam met Andries en sal nog vir jare op die mooi herinneringe teer!
Kliek op die foto om te vergroot