10 Vriende ontspan in Addo en die Bergkwagga Nasionale park

’n UITSTAPPIE OM TE ONTHOU
Sondagoggend 10 Maart 2013 het drie motors met tien lede van die Strand-gemeente in die pad geval vir ’n week se ontspan in Addo en die minder bekende Bergkwagga Nasionale Park. Ons eerste bestemming was Bergkwagga. Die lang rit is makliker gemaak deur ontbyt, middagete en koffiedrink by oulike piekniekplekkies te geniet.  Kwinkslae, lag en gesels was aan die orde van die dag. Moeg, maar vol lewe het ons daardie middag op die stoep by Thinus en Ellen Visagie se huisie bymekaargekom vir die eerste lekker kuier. Die gerieflike ruim huisies huisves twee pare met gemak en jy kan omtrent dans op die stoep. Cas Coertze, ons braaier, het gou hout op die vuurmaakplek gehad, ons het kurkproppe uitgetrek en wat ’n fees was dit nie. Tien vriende, ontspanne, gesellig en gelukkig.

Jan en Anne Barkhuizen is vermaarde voëlkykers en elk met verkyker en boek in die hand gedurig op die uitkyk vir iets nuuts of moois. Piet Snyman was heeltyd doenig om foto’s te neem. Barrie Snyman en Karin Coertze het die lootjie getrek om die aand vir die bykosse te sorg en was daarom in die kombuis. Leon en Barbara Hattingh het hul sitplekke warm gehou. Dit was ons somtotaal.

Die volgende oggend het ons gaan diere kyk. Die mooiste was seker die bergkwaggas omdat hulle anders as die zebras breër strepe en heelwat witter boude het. Ons sien springbokke, rooihartbeeste, swartwildebeeste, blesbokke en ander kleiner diere. En ook voëls. Ons ry stadig, bykans kruipend, want daar is geen haas nie. Ons bewonder die vlakte, die vallei en dan die berge, dié hier naby en dié daar ver teen die horison. Dit was ’n wonderlike oggendrit. Niemand van ons was al hier nie en daarom was alles so nuut en aangenaam.

Die volgende oggend het ons ’n ander draai gaan ry. Net om die park van uit ’n ander hoek te sien. Die pad was vreemder maar die omgewing net so aantreklik. Teen die oorkantste berghang lê duidelik die pad wat ’n groot rots van etlike ton ’n paar jaar gelede gebaan het toe dit bo los gebreek en na benede gerol het.

So kuier ons die tyd om. En toe ons Woensdagoggend die park verlaat, was daar by almal die uitgespreekte wens om weer eendag terug te kom. Nou was Addo ons volgende bestemming. Ons eerste stop is Cradock. Dis ’n dorp wat ons heerlik verras. Hier wou ons die pragtige kerk besoek maar kon ongelukkig nie toegang kry nie en moes maar met fotos tevrede wees.   Die stilhou was net om brandstof te kry en ’n koffietjie. Toe, so ver as wat ons gaan, ry ons deur ’n mooi groen strook. By Middleton se Padstal stop ons vir tee.  ’n Skooltjie uit die laat agtienhonderds dien as die Padstal. Was dit nie heerlike melktert nie? Vandag is dié kontrei bekend vir die goeie werk wat daar vir allerlei verslaafdes gedoen word. Die klein Engelse kerkie neffens die pad word vir ons oopgesluit om deur te loop. Presies twaalf mense het sitplek tensy iemand indruk.

Net voor Addo se ingang bars die Mercedes se agterband met ’n hengse slag. Na die groot skrik en die versekering dat alles en almal nog wel is, besef elkeen in stilte dat ons Vader Sy Hand oor ons hou. Sê nou dit het in een van die passe of teen ’n hoë spoed gebeur. In ’n japtrap is die noodwiel egter aan en kon ons die kamp binne. Ons gaan tuis in die houthuisies daar tussen die spekbome. Ons kies nommer tien om by te braai maar net toe Cas daardie aand die rooster van die braaiplek aftrek, besluit die hele spulletjie om om te val. Gelukkig red Cas ons vleis en die gloeiende kole het sy voete net gemis. Daar gaan ons braaiplek vir die volgende aand, was ons almal se gedagte. Dog, die volgende dag toe ons van ons dierekykrit terugkeer, was daar ’n splinternuwe braaiplek opgerig. Braai by nommer tien was weer op die spyskaart.

 Addo is bekend vir sy olifante. So hier en daar het ons ’n paar teëgekom, maar by een watergat was daar al ’n hele klomp wat net klaar gedrink het. Toe merk ons daar oorkant tussen die bome nog olifantrûe op. Hulle kom ook water toe. En vir die volgende uur of twee was dit ’n besonderse gesig want daar het voortdurend net nog meer en meer gekom. Naderhand was daar seker meer as ’n honderd, dalk twee honderd waarvan baie kleintjies van allerlei groottes was. Van die jonges het ál hul werk gehad om ’n paar dors vlakvarke, volstruise, zebras en ander bokke van die water weg te hou. Wat ’n gesig, wat ’n belewenis was dit nie. ’n Mens sien nie maklik so iets nie. Wat ’n wonderlike ervaring.

  Tydens vorige saamkuiers het dit gebruik geword om aan mekaar byname te gee, name wat om een of ander rede eie aan elkeen is. So is daar Jan de Prater, Anne Woelwater, Barbara Mater, Barrie Ystervrou, Karin Skatbolletjie, Cas Voorskoot, Piet Kompetisie en Leon die Swyger. Omdat dit hul eerste tog saam met die groep was en nog nie gedoop is nie, het Thinus en Ellen Thinus Randsentman en Ellen Elegant geword. Met grasie aanvaar hulle die name. Ons laaste aand saam was net so lekker soos elk van die voriges. Tevrede het ons gaan rus voor die lang pad terug huis toe.

Kliek op die fotos vir meer inligting