Bergkwagga en Karoo Nasionale Park

                ’n Besoek aan Bergkwagga en Karoo Nasionale Parke

Maandag 4 Mei 2015 om half vyf die oggend was ons twaalf lidmate van ons Strand-gemeente gereed om te vertrek, drie voertuie tot boordens toe vol gepak en ’n opgewondenheid wat skaars perke ken.  Anderkant Swellendam span ons vir ’n wyle uit om die magies eers vol te kry en daarna was dit strykdeur voet in die hoek tot die middag om vieruur toe ons by die hek van die Bergkwaggapark aankom.  Ons het drie pragtige wooneenhede en dadelik maak Cas Coertze die eerste vuur vir die week.  Ons kuier heerlik en gaan slaap vroeg.

Ons eerste dag in die kamp was al opwindend.  Daar is heelwat diere en die voelkykers onder ons is in hul noppies.  Irma Pretorius, onlangs ’n kyker geword, geniet haar gate uit, want die gesoute kykers kan nie genoeg haar na al die moontlikhede verwys nie.  Frans Mare maak jag op die troppie ape wat wil kom aas en hy lyk na ’n sirkusman soos hy moet rondspring.  Die kuiers by die braai word net al lekkerder.

Ons ry elke dag ’n ander koers en bewonder die park se pragtige natuurskoon.  Kranskop en Bakenkop, die twee hoogste koppe in die park, word afge-ets in elkeen van ons se geheue.  Elke dag lewer sy eie verrassings op.  Met swaar harte neem ons die vierde dag van die park afskeid.  Van hier is die koers die Karoo Nasionale Park net buite Beaufort-Wes.  Hier het elke paartjie sy eie woonplek.  Ons braai weer voor Cas se eenheid want hy is ’n bobaas braaier.  Die volgende twee oggende eet ons ontbyt in die restaurant omdat dit ingesluit is.

Net buite die kampdraad sien ons twee leeus wat iets le en vreet.  Naderhand kies die een pad teen die heuwel uit.  Miskien is dit die een wat kort hierna ontsnap het.  Ons ry die lang ompad en vergeet amper ons is in die Karoo want bederf soos ons in Bergkwagga geraak het, sien jy by tye bykans geen diere nie net om weer verras te word met iets anders, soos ’n trop elande wat erens heen draf.  Al ooit so iets gesien?  Dan ’n leeuwyfie wat by haar prooi le en rus.  Hierna die pragtigste kloof met ’n kronkelende pad wat jou asem wegslaan.  Hier le natuurskoon wat ons nooit besef het nie.

Met die huis toe gaan slag stop ons by Matjesfontein om tee te drink.  Vir diegene in ons groep wat nog nooit voorheen daar was nie, stap ons sommer op die terrein rond.  Hulle raak geinspireer om self eendag daar oor te bly.  Dan gaan ons na die begraafplaas daar naby waar die Engelse generaal Wauchope, wat by die slag van Magersfontein in 1899 gesneuwel het, begrawe le.  Hierna sing die bande huis toe.

Wat ’n heerlike ervaring met ’n groepie mede lidmate.

Kliek op die foto om te vergroot.